Jy is ses maande nou al aan die groei en jy travel gemaklik voel dit vir my. Ons het afgery Franschhoek toe om die nuwe jaar in te gaan saam met almal en die berge.
Die laaste week was heerlik rustig en sommer net rond hang in stille Johannesburg by Ouma Salome en in die shops en saam met ou pelle.
Ek en ma sluit die dag af met ons gunsteling fliek, "Antonia's line", die lekkerste fliek oor sterk inspirerende vroue wat saam bly op 'n plaas, 'n lyn van vier generasies, 'n storie vol karakters en lekkerkry.
Nou ja... ek sit hier op die stoep by Goodings Grove met die rustigheid van die berge wat knoesig om my le en die blou lug wat dit prentjie mooi raam. Die pad deur die Vrystaat en Karoo en toe die Hex rivier vallei slaan nog elke keer my asem weg en laat my hart met groot waardering vir hierdie land en kontinent klop. Jy is hier al is dit net in my maag en jou teenwoordigheid is 'n wonderlike ervaring en herinnering aan dit wat als werklik belangrik is.
Ek voel geseend en gelukkig. Rus lekker engel kind want hier is baie om te beleef.
No comments:
Post a Comment