Monday, January 31, 2011

32 WEKE


Ons het die perfekte nes gekry engel kind! Sommer die eerste plek wat ons gaan kyk ... die gemak en vloeibaarheid van hierdie tyd wys homself weer.
Jou 'Grandma' Terrie het baie gehelp, sy is net so opgewonde om jou te ontmoet en met haar hulp het als sommer vinnig in plek geval in ons nuwe stad.
Ek en Elma het die week saam afgery tot in LA. Ons het die Big Sur pad gery wat twee keer so ver is, maar een van die mooiste kus lyne is om te ervaar en ons kon nie dat Elma dit misloop nie. Die pad het voor ons uitgekronkel en om elke draai het die skoonheid van ons verys om uit te roep en aandag te gee. Ons het heerlik ons tyd gevat en elke oomblik geniet tot ons die verkeer slaan in LA. Gelukkig kon ons die aand heerlik by Erin ontspan. Ek het in San Diego by jou 'Grandma' gaan rus en gesond word en die kuier in LA kort geknip tot my teleurstelling want 'n simpel verkoue het my beetgekry.
Teen Donderdag vlieg ek terug San Francisco toe met 'n huis en kontrak in ons sak en voel ek baie rustiger oor die volgende paar maande en ons doen en late. Jy groei nou teen 'n spoed en dit voel of iemand die fast-forward knoppie gedruk het. Jy skop en tikkie draai en laat my giggel soos jy my kielie van binne. Dis so lekker om by die huis in die bed te klim saam met jou pa waar ek baie rustiger slaap so tussen die wakker word elke drie ure. Ons rus nou en geniet sommer net tyd en eet saam. Ons laaste dae in die mooi plek, waar ons baie geluk en ervaring gevind het! "Sedona's Rule", 'n movie wat ons twee jaar gelede geskiet het, wys by een van die local movie teaters en dis heerlik om die opgewondenheid van 'n projek se klaarheid saam met almal wat daaraan create het te deel. Die movie is 'n lekker thriller. Eendag as jy groter is kan jy dit kyk, dit uit die argiewe gaan haal:)
En so se ons dan nou die week elke dag vir 'n stukkie van ons geliefde stad totsiens. Terselftertyd ook hello vir 'n opwindende nuwe avontuur en stad.
Groei en broei nou lekker en wees rustig, daar is baie tyd vir als wat in die wereld vir jou voorle
Lief vir jou....

Sunday, January 23, 2011

31 WEKE

My Liefste Darling
Hierdie week het ek bewus geword van die balans van beheer wat ons het in hierdie wereldse ervaring. Die gewaarwording dat ons 'n brander in die oseaan, 'n blaar van die boom is, dat ons 'n unieke deel is van die groter prentjie en speletjie, soms die kunstenaar en soms die kuns. My wese wil in stilte en verwondering luister. Jy groei en ek glo jy is op die oomblik aan die stuur en ek ry net saam.
Hierdie week is die groot besef, dat ek moet leer hoe om oor te gee sonder om my innerlike krag en wete te betwyfel. Dis 'n tyd van "letting go", verandering en koebaai se. Ek het begin inpak en ons albums laat herinneringe oor my spoel wat my laat glimlag, en hier en daar 'n traan laat spat.
In die Muirwoods tussen die awesome Red Woods voel dit of ek alles beter verstaan en beter kan hoor. 'n Gebed word wakker in my vir jou. Dat jy in die wereld sal inkom, net soos jy wil en dat ek net as getuienis, ondersteuning en liefde van jou en jou pad sal staan. Dat jy die liefde en warmte ervaar wat hier in oorvloed wag vir jou. Ons is geseend met ongelooflike mooi, liefde en mense wat omgee orals om ons. Dinge gebeur soms pynlik stadig en soms so vinnig dis moeilik om by te bly, die kuns is om binne in die oomblik te bly en my groot uitdaging: "to go with the flow"
Die wereld sien uit na jou wat kom en ek is party dae baie oorweldig met die gedagte van jou en ander dae is die rustigheid 'n heerlike herinnering dat dit die natuurlikste verloop van dae is. Ek voel gerus en opgewonde.
Ons gaan nou huis soek en ek weet jy sal die perfekte nessie help manifesteer. Nog twee road trips en 'n vlug dan gaan ons stil raak en nes maak my lief. Jy is so 'n gemaklike traveler en ek kan nie wag om die wereld saam met jou te toer nie.

My gebed is vir jou, dat jy in die wereld jou waarheid elke dag sal ervaar. Dat jy sal weet hoe geliefd jy is en dat jy altyd weet jy is kosbaar en 'n deel van iets wat ons nie altyd kan verduidelik nie, maar dat dit cool is wat hier gekuns is vir ons as wesens om te ervaar.

Lief vir jou Noe-noe kind!

Sunday, January 16, 2011

30 WEKE

Die kuier in Suid Afrika loop tot sy einde toe. Almal raak snaaks soos wanneer dit volmaan is. Maar dis maar net die koebaai se-ery wat swaar is. Esther en Ouma Salome organiseer 'n stunning tee saam met al die vroue in my lewe. My Afrika susters. Saam met wie ek elkeen al 'n pad gestap het en 'n storie mee deel. Ek sit in verstomming en kyk om my na almal wat na die viering van 'n kruising in my pad kom. Ek is opgewonde om jou en hierdie pad met elkeen van hulle te deel. Wonderlike geskenke vir jou engel kind, prakties en mooi word uitgedeel en wyshede wat ek in my hart saam dra.
Babas chat saam en dogtertjies hardloop en dans op die gras soos ma's 'n jaar se gebeurtenisse probeer opvang.


Die volgende dag vlieg ek en Elma New York toe, 'n lang agtien ure vlug later kom ons in 'n baie koue NYC aan waar Donna ons gelukkig in haar groot trok kom oplaai. Ons ry met draaie en ompaaie na Ruby's Cove toe,haar B&B wat sy op haar unieke manier en met 'n towerhand hardloop. Ons sneeu vas vir twee dae en is maar te bly want die huis is snoesig en die kuier lekker om haar groot hout tafel in die kombuis. Die sneeu is 'n belewenis maar ek weet nie van bly in sulke ekstreme nie. Dis baie werk om by die huis uit te kom net om om die blok te gaan stap.
Vir 'n heerlike drie dae kuier ons in Ruby's Cove en op die vierde dag waag ons dit die stad in. Waar dit minus grade bereik het. Ons bly in 'n hotel in die middel van Manhattan en stap die strate plat. Grand Central is stunning en 'n belewenis, ons verkyk ons aan al die kom en gaan en mense wat erens het om te wees. En toe vat ons voete ons na die Lower East side toe waar ons heerlike egte NYC pizza eet in die village en nog al die tyd lekker kuier.
Die stad se energie is stunning en onophoudelik. Ek is bly om net een aand hier te wees, as jy saam met my kan stap en kyk dan doen ons dit weer, want nou is dit 'n rustigheid wat ek soek en in die stad raak dit verlore. Prioriteite is iets wat baie verander het die laaste paar maande en hierdie aardse ervaring is iets wat werklik voel wanneer dit gedeel word met geliefdes.
Voor ons die laaste been huis toe vlieg gaan ons eers Time Square, Metropolitan Museum en Central park toe, alles is sprokies agtig en prentjie mooi. Die park is wit onder die sneeu en kinders speel orals. Die lekkerste is om saam met twee merkwaardige vroue en vriendinne hierdie landskap en mooi te deel. Herinneringe is wat ons saam dra.
Ek slaap amper die hele vlug terug San Francisco toe en is opgewonde en bly om by die huis te kom waar verandering en avontuur wag.
Nou is die prioriteit nes skrop vir jou Noe-noe kind.
liefde...

Friday, January 7, 2011

29 WEKE


2011!


Dit voel of jy by die minuut groei en aktief betrokke raak. Jy skop nou gedurig en dis lekker om jou beweging met almal te deel, jou teenwoordigheid maak almal baie opgewonde.



Ons was die laaste week eers vir 'n heerlike aand in Kaapstad by ons cute cottage in Wynberg, nadat ons heerlik aan Rafiki's se prawns gesmul het, ons ritueel elke keer as ons in die Kaap is.





Terug op die Hoeveld huur ons 'n kar en ry bosveld toe waar ons 'n heerlike twee dae in Pilansberg kuier. Ons bly in 'n Safari tent en maak vuur en luister na die natuur en al haar musiek. Die sterre skyn en met elke verskietende ster wens ek vir jou my lief.
Ons sien olifante en jy skop elke keer asof jy iets aanvoel. Kameelperde en zeebras en blou wildebeeste is volop met kleintjies orals. Ons sien tot 'n jong mannetjies leeu met son onder.





Pilansberg is groen en soos 'n sprokies wereld. Dis magic wat ons nie van genoeg kan kry nie. Ek dink ons is so lief vir Afrika en sy veld dat ons altyd eers verdwaal terug Johannesburg toe, wat ons die keer ook doen en lekker ompad ry deur die Limpopo. Dis altyd 'n avontuur engel en ek hoop jy maak reg om saam te speel.
Terug in Jozi geniet ons 'n fantastiese aand met vriende om die tafel en tuisgemaakte pizza. Jou pa geniet die kombuis en ons smul aan sy en Tannie Es se pizza! Johannesburg lyk op sy beste na die wereld soccer en al die reen, die middestad is vol lewe en ons ry met trotse harte daardeur en leer nog van haar geskiedenis met 'n kuier by die Rand Club.
Hoor jy hoe sing jou pa vir jou in die oggend engel kind, ek sien so uit vir julle om te ontmoet. Jy is gelukkig om hom as pa te kon kies, hy is klaar om jou pinkie gevou.

lief vir jou Noe-noe kind!

28 WEKE


Franschhoek!
Ons kuier en is rustig op Goodings Grove! Elke oggend eet ons ontbyt met 'n uitsig oor die berge wat my met 'n oopmond vang soos ek staar en my verbeelding op loop gaan. Ons maak 'n Meksikaanse fees vir almal, toe dit ons beurt is om kos te maak en eet vir drie dae daaraan, daar is 'n definitiewe verskil tussen Amerikaanse en Suid Afrikaanse porsies. Verder swem ons as ons warm kry en slaap wanneer ons lus is en lees baie. Die wingerde is beautiful en ons stap lekker so deur die plase, honde neem ons aan en vir 'n uur draf hulle met geesdrif saam, en ons kry lekker. Ons kuier op Hermanus vir 'n dag en geniet ou herinneringe. Jou pa was vir 'n goeie twee dae siek in die bed toe hy aankom, maar teen nuwe jaar dans hy saam tot die reen ons bed toe jaag vroeg oggend, Jan 2011. Jy groei vinnig Noe-noe kind, ek staan verbaas in die spieel en kyk. Jy kan blykbaar nou ook droom en geniet rem slaap, jy is besig en ek hou van hoe jy dans in my maag. Omring deur die skoonheid van die Kaap bond ons familie lekker, ek kan nie wag om die stukkie paradys met jou te deel nie. Liefde

Sunday, December 26, 2010

27 WEKE

Geseende Kersfees Noe-Noe Kind!
Jy is ses maande nou al aan die groei en jy travel gemaklik voel dit vir my. Ons het afgery Franschhoek toe om die nuwe jaar in te gaan saam met almal en die berge.

Die laaste week was heerlik rustig en sommer net rond hang in stille Johannesburg by Ouma Salome en in die shops en saam met ou pelle. Kersaand was ons heerlik by ons ander Siel familie, die Landmans en dis vir my van die lekkerste oomblikke, ons deel gereeld die tyd van die jaar met hulle, en daar is net 'n gemaklikheid en rykdom van gees saam. Vir Kersdag is ons die middag tussen al die Goodings. Die dag loop warm en Vader Kersfees het tot 'n verskynsel gemaak op 'n motorfiets en sonder sy langbroek, ek dink die hitte het hom ook gevang. Ons kuier lekker so tussen almal, al vyftig van hulle.Die kos, kersboom, almal en alles was baie mooi en aangenaam.
Ek en ma sluit die dag af met ons gunsteling fliek, "Antonia's line", die lekkerste fliek oor sterk inspirerende vroue wat saam bly op 'n plaas, 'n lyn van vier generasies, 'n storie vol karakters en lekkerkry.

Nou ja... ek sit hier op die stoep by Goodings Grove met die rustigheid van die berge wat knoesig om my le en die blou lug wat dit prentjie mooi raam. Die pad deur die Vrystaat en Karoo en toe die Hex rivier vallei slaan nog elke keer my asem weg en laat my hart met groot waardering vir hierdie land en kontinent klop. Jy is hier al is dit net in my maag en jou teenwoordigheid is 'n wonderlike ervaring en herinnering aan dit wat als werklik belangrik is.

Ek voel geseend en gelukkig. Rus lekker engel kind want hier is baie om te beleef.

Sunday, December 19, 2010

26 WEKE


Noe-noe kind, Johannesburg is op sy mooiste na al die reen en somer hier is iets om te beleef met al die donderstorms en sonskyn. Ek geniet my ma en familie meer as ooit. Ons het hierdie week regtig net rustig ons herinneringe gevind en wonderlike oomblikke saam gedeel. Meestal in die kombuis en in die tuin of op die bank. Ons het heerlike Malay kerrie geeet wat jou Tannie Kim gemaak het, sy is 'n 'formidabele' kok en ons smul altyd as sy eers in die kombuis besig geraak het. Daar is iets baie spesiaal aan 'n klomp vroue in die kombuis wat saam kos maak, dis heilig. Dit was sommer lekker kuier en stories deel om die tafel tot laat. Die volgende aand was al jou niggies en nefies van die Jacobsz kant hier met 'n bobotie, tipies en lekker. Dit was wonderlik om om die tafel te sit saam met hulle, en herinneringe van ouds te onthou, see vakansies, paarties op die strand en manevales wat net vier klein dogtertjies mee kan weg kom. Dis 'n voorreg om in hulle gesigte myself en 'n geskiedenis te sien wat my laat voel of ek hoort. Ons is baie geseend my darling.

Verder die week toe kuier en kry ons kwaliteit tyd saam met jou Tannie Esther en Ouma, die drie van ons kuier een stryk deur vir dae. Ons geniet elke aand 'n fees uit jou Ouma se kombuis, ons lek ons vingers af. En toe beleef jy ook jou eerste Ballet by die Staats Teater in Pretoria soos dit hoort. Ons het Nut Cracker gaan kyk wat wonderlik was met 'n klassieke orkes daar en almal om ons in hulle sondag beste. Dit was fabulous. Dit voel of jy nou mooi in settle en die kos en water en lug hier gewoond raak. Ek voel weer vol energie en kan nie genoeg kry van my ma nie. Ons loop lekker in Jozi se strate en 'shop till we drop', sy is die enigste persoon wat my ook wil laat koop, dis laf en lekker. Ons het in die haarkapper by Lorinda gaan uithang vir 'n oggend en toe lekker in Malcolm se tuin gekuier. Die reen het opgeklaar na dit ons amper weg gespoel het en die son en maan skyn ekstra helder. Ek staan in die tuin onder die boom haal diep asem want die reuke en klanke wat my siel vul in hierdie stad van my hart vul my wese met 'n rustigheid en 'n wete dat ek hoort en dit maak die pad vorentoe meer duidelik en tasbaar. Jou nabyheid is wat my die rustigheid vanself maak en my laat uitsien in die oomblik meer as ooit, so dankie vir jou Noe-noe.
Baie lief vir jou elke dag.