My eerste moedersdag as 'n moeder! 'n Spesiale dag besef ek toe ek wakker word saam met Charlotte en my man glimlag vir my met koffie en 'n ontbyt wat my mond onmiddelik laat water. Ek word heel dag bederf! Ek is ma en dis sover my gunsteling rol ooit!Die gevoel van onwerklikheid le nog om my en ek is elke oggend verbaas oor my realiteit. Dis gelukkig 'n verfrissende en lekker verrassing en Charlotte se gesteun en kreun en krampende lag laat my verstom staan. Dis ongelooflik hoe klein en afhanklik ons die lewe begin as mens. Hoe ons met absolute vertroue moet leef om te oorleef. DIs vir my 'n wonderlike herinnering van hoe om te glo en vertrou soos 'n kind. Om die keuse van wantroue uit te skakel en my geloof in myself en waar ek my bevind, my geloof in ander en ons absolute konneksie, my geloof in moederaarde se gravitasie en my geloof in my fisiese liggaam en die wonder daarvan te bewaar.
My verlange na my ma op die dag maak my keel dik en ek wens met my hele hart sy het om die draai gebly. Dat ek vir haar die grootste bos blomme kan vat en saam met haar onder die boom saam met Charlotte kan sit en 'n glas wyn drink en die wonder van ons bestaan te betrag.
Die oseaan le vir die eerste keer regtig as 'n grens tussen my twee lewens. Die groot tyd verskil maak my moeg en soms so moedeloos. Die een ding wat help is dat wanneer dit alleen word so in die middernag weet ek die son skyn daar waar my geliefdes is. En dankie tog vir Skype!
Charlotte groei elke minuut en haar oe word net groter en haar lyfie langer. Sy begin nou koer en die uitdrukkings is geanimeerd en heerlike vermaak.
Ek word geforseer om saam met haar te slaap, want die dae en weke wat ek probeer om aan te gaan soos normaal en nie saam met haar dut nie, laat my van uitputting onredelik raak, almal was reg toe hulle se slaap wanneer sy slaap.
Dis nou ses weke later, sy is ses weke oud vandag! Dis amazing, waar het die tyd heen verdwyn...gaan als van nou af teen die spoed beweeg, genade ek beter elke oomblik herken.
No comments:
Post a Comment