Saturday, December 11, 2010

25 WEKE


Hierdie 25ste week was baie opwindend en vol manevales en dinge. Ek sit nou uiteindelik in jou Ouma Salome se huis in Johannesburg en luister hoe die reen buite val. Dis 'n lafenis en 'n anderse reen as in San Francisco. Maar ek is reg vir die son om te skyn en die onweer om bietjie te bedaar. Die reis het Vrydag aand middernag in San Francisco begin, vasgehak in Minneapolis/St Paul in die sneeu storm tot Sondag middag en na baie reen en 'n lekker kuier by my ander soul-sister Donna in New York vir 'n kort aand, het dit my uiteindelik in Johannesburg afgelewer, Dinsdag oggend. 'n Sneeu storm is nie speletjies nie, en darem kon ek 'n motel kamer vir die dag kry om in te rus in Minneapolis terwyl die storm haarself uit gewoed het. Dit was een ding om die hotel kamer geboek te kry en 'n ander om tot daar te kom. Gelukkig het 'n engel my pad gekruis, ek was op die regte plek in die regte oomblik om 'n lift van 'n engel, Shanti te kry. Ons het in haar trok dit veilig gemaak tot by die hotel na 'n paar draaie en swaaie deur sneeu belaaide strate.

Dit dan daar gelaat die res van jou 25ste week was heerlik, ons het ons "Friends Thanks Giving" gehou, nog 'n dankie se seremonie, ja! Ons het vyftien stunning pelle van ons om die tafel gehad met 'n kalkoen uit my oond, 'n vark boud uit my crock pot en lekker vars krap uit onse see wat Matt gevang en saam gebring het. Ons is geseend met ware vriende in ons lewe en ek was sommer Donderdag vol hartseer om totsiens te se vir ons avontuur in San Francisco. Mense bly gelukkig altyd in mens se hart as hulle eers daar tuis geraak het. Ek het heerlik huis gespeel en reg gemaak om Suid Afrika toe te kom. Ek en Ryan het selfs Vrydag aand voor my vlug ons Kersfees fix gaan kry in Union Square waar hulle 'n yskaats baan in die square bou en 'n vreeslike groot Kersboom versier het om mens te laat voel jy sit reg in die middel van Kersfees.

Jy word net groter engel kind en toe ek uiteindelik stil sit in die vliegtuig is jy baie aktief en besig, so asof jy wou sien wat aangaan. Ek dink jy gaan hou van reis, wel ek hoop so.
Nou is ons vir eers in die Moederland en ek hoop die tyd hier kweek in jou ook 'n diepe liefde en waardering vir hierdie land en sy mense en tale.
....so baie liefde vir jou!

No comments:

Post a Comment