Sunday, December 26, 2010

27 WEKE

Geseende Kersfees Noe-Noe Kind!
Jy is ses maande nou al aan die groei en jy travel gemaklik voel dit vir my. Ons het afgery Franschhoek toe om die nuwe jaar in te gaan saam met almal en die berge.

Die laaste week was heerlik rustig en sommer net rond hang in stille Johannesburg by Ouma Salome en in die shops en saam met ou pelle. Kersaand was ons heerlik by ons ander Siel familie, die Landmans en dis vir my van die lekkerste oomblikke, ons deel gereeld die tyd van die jaar met hulle, en daar is net 'n gemaklikheid en rykdom van gees saam. Vir Kersdag is ons die middag tussen al die Goodings. Die dag loop warm en Vader Kersfees het tot 'n verskynsel gemaak op 'n motorfiets en sonder sy langbroek, ek dink die hitte het hom ook gevang. Ons kuier lekker so tussen almal, al vyftig van hulle.Die kos, kersboom, almal en alles was baie mooi en aangenaam.
Ek en ma sluit die dag af met ons gunsteling fliek, "Antonia's line", die lekkerste fliek oor sterk inspirerende vroue wat saam bly op 'n plaas, 'n lyn van vier generasies, 'n storie vol karakters en lekkerkry.

Nou ja... ek sit hier op die stoep by Goodings Grove met die rustigheid van die berge wat knoesig om my le en die blou lug wat dit prentjie mooi raam. Die pad deur die Vrystaat en Karoo en toe die Hex rivier vallei slaan nog elke keer my asem weg en laat my hart met groot waardering vir hierdie land en kontinent klop. Jy is hier al is dit net in my maag en jou teenwoordigheid is 'n wonderlike ervaring en herinnering aan dit wat als werklik belangrik is.

Ek voel geseend en gelukkig. Rus lekker engel kind want hier is baie om te beleef.

No comments:

Post a Comment