Sunday, January 23, 2011

31 WEKE

My Liefste Darling
Hierdie week het ek bewus geword van die balans van beheer wat ons het in hierdie wereldse ervaring. Die gewaarwording dat ons 'n brander in die oseaan, 'n blaar van die boom is, dat ons 'n unieke deel is van die groter prentjie en speletjie, soms die kunstenaar en soms die kuns. My wese wil in stilte en verwondering luister. Jy groei en ek glo jy is op die oomblik aan die stuur en ek ry net saam.
Hierdie week is die groot besef, dat ek moet leer hoe om oor te gee sonder om my innerlike krag en wete te betwyfel. Dis 'n tyd van "letting go", verandering en koebaai se. Ek het begin inpak en ons albums laat herinneringe oor my spoel wat my laat glimlag, en hier en daar 'n traan laat spat.
In die Muirwoods tussen die awesome Red Woods voel dit of ek alles beter verstaan en beter kan hoor. 'n Gebed word wakker in my vir jou. Dat jy in die wereld sal inkom, net soos jy wil en dat ek net as getuienis, ondersteuning en liefde van jou en jou pad sal staan. Dat jy die liefde en warmte ervaar wat hier in oorvloed wag vir jou. Ons is geseend met ongelooflike mooi, liefde en mense wat omgee orals om ons. Dinge gebeur soms pynlik stadig en soms so vinnig dis moeilik om by te bly, die kuns is om binne in die oomblik te bly en my groot uitdaging: "to go with the flow"
Die wereld sien uit na jou wat kom en ek is party dae baie oorweldig met die gedagte van jou en ander dae is die rustigheid 'n heerlike herinnering dat dit die natuurlikste verloop van dae is. Ek voel gerus en opgewonde.
Ons gaan nou huis soek en ek weet jy sal die perfekte nessie help manifesteer. Nog twee road trips en 'n vlug dan gaan ons stil raak en nes maak my lief. Jy is so 'n gemaklike traveler en ek kan nie wag om die wereld saam met jou te toer nie.

My gebed is vir jou, dat jy in die wereld jou waarheid elke dag sal ervaar. Dat jy sal weet hoe geliefd jy is en dat jy altyd weet jy is kosbaar en 'n deel van iets wat ons nie altyd kan verduidelik nie, maar dat dit cool is wat hier gekuns is vir ons as wesens om te ervaar.

Lief vir jou Noe-noe kind!

No comments:

Post a Comment