Monday, February 7, 2011

33 WEKE

Liefste Engel kind, dit was 'n week vol liefde en ritueel. Die hoeveelheid ondersteuning in die tyd laat my stomgeslaan terug staan in dankbaarheid.
Almal wil help en deel wees van die ekspidisie. Dis so lekker en gemaklik en ek kon regtig die week myself toelaat om laat te slaap en stadiger te beweeg. My lyf en jy groei by die minuut voel dit vir my. Ons kon jou weer waarneem met 'n sonar en jy is blykbaar al oor die vyf pond gesond en aan die groei. Wow!
Ek en jou pa kuier vir oulaas baie lekker in ons woonstel hier naby die strand in San Francisco en weet ons gaan die plek baie verlang. Dis vol warmte en huis en herinneringe. Ons is baie produktief soos ons besig is om op te pak en als uit tesort vir ons nuwe bly plek en lewe in die suide van California!
Ons het jou koms en die verandering wat vir my as vrou plaasvind soos ek moederskap intree gevier saam met 'n paar baie spesiale vroue en tot na middernag gekuier. Die grootste wens is vir jou om onophoudelike, onvoorwaardelike liefde en aanvaarding te ervaar, dat jy mag wees wie en wat jy okal wil en dat daar vir jou spasie is om jou lewe en jouself absoluut te ervaar. Jy gaan 'n tradisie van sterk en eiesinnige vroue beleef wat jou met ope arms en onvoorwaardelike liefde gaan toevou.
Die week eindig met jou maatjie Paolo se 1ste verjaarsdag, en 'n swem in die see vir oulaas. vrek koud en minder as 10grade celcius. Na so 5 minute van uit roepe en mens se asem vang is die gevoel wat oor mens kom 'n belewenis en 'n herinnering om in die oomblik te bly. Die brug gloei rooi teen 'n blouste lug en die land is immer groen in gelaat. Ek gee oor en dryf met gemak en voel gekoester in haar, die see, moeder aarde se water.
Die son is warm so die koue skielik nie onbillik nie. En ek lag hardop van lekker kry.

Eendag kom swem jy saam met my Noe-noe Kind!
lief vir jou...

No comments:

Post a Comment