Friday, February 18, 2011

34 & 35 WEKE

Die groot trek! 'n Baie groot 27' trok vat ons en al ons goeters suid."Wow!" is al wat by mond wil uit.



Hier sit ek nou in my nuwe kombuis. Twee weke het verby gevlieg. Dit was vol koebaai se, pakkerasies, trane en lag en planne wat verander soos hulle beplan word en nou is ons hier!
Die nuwe nes is heerlik en vol spasie, genoeg vir ons en jou en 'n maatjie of twee.
Die grootste gewaarwording gedurende die transformasie is weereens die liefde, geduld en ondersteuning van almal om ons en dat daar altyd genoeg tyd is. Waar ek draai is daar helpende hande wat met liefde vat en pak en vashou. Ons laaste week in San Francisco was absoluut beautiful en vol sonskyn. En al moes ek pak kon ek wanneer ek oor die dak na Eli toe is die son en en sy glans geniet, die uitsig oor die brug en die groen van die land het my elke keer tot stilstand geroep. Ons herinneringe in die stad so baie en die herroep nogal 'n belewenis. Ons kuier vir ou laas saam met vriende wat vir altyd sal wees maar wie ons op 'n daaglikse basis sal verlang. Ons lewe in San Francisco was so geseend en dus is die weggaan ook hartseer.
En tog is daar groot genot in die avontuur van ons nuwe lewe en dorp. Ruimte en rustigheid omring ons. Daar is heerlike strande en stap roetes en kinders orals. Ons is naby aan jou niggies en nefies en Grandma Terrie so jou lewe gaan vol wees engel. Nou is dit net klaar uitpak en al jou nodigste bymekaar maak, sodat jy darem lekker kan slaap en skoon en droog kan bly met 'n vol magie. Ons vat die res maar soos dit kom, ne?!?
Baie lief vir jou!

No comments:

Post a Comment